Jag

Die lang wag vir die jagseisoen om aan te breek, is verby. Hoe het ons
nie die dae afgetel en ons voorbereidings gedoen nie? Ek weet dat ’n mens
regdeur die jaar kan jag op plase met voldoende omheining, maar winter bly
maar die eintlike jagtyd. Voorbereiding sluit alles in vanaf gewere nagaan, ammunisie laai, messe slyp, skoene betyds koop om uit te trap voor die jagseisoen tot fiks raak en les bes selfs ophou rook! Al hierdie bedrywighede het een gemene deler, naamlik ’n opgewondenheid en ’n tinteling en uitsien na wat aan die kom is. Jagters se beheptheid met jag slaan nie-jagters dikwels totaal dronk. Ek het begrip daarvoor dat nie almal hierdie passie deel nie en dit daarom ook nie altyd verstaan nie. Wat egter tragies is, is dat hierdie passie dikwels totaal verkeerd vertolk word. Dikwels word dit gesien as ’n bloeddorstige beheptheid met doodmaak. Die jagter word in hierdie proses die meedoënlose agtervolger van ’n weerlose slagoffer wat ten alle koste doodgemaak moet word. Hoe jagters nog so vermetel kan wees om met trots te jag, is totaal onbegryplik. Die feite is egter dat jag ’n totale en komplekse ondervinding met baie aspekte is, waarvan die jag van die dier slegs een element is.

Waarom jag ons? Daar word baie redes hiervoor aangevoer, maar ons jag in die eerste plek omdat dit vir ons lekker is. Ons geniet dit om in die natuur te wees, ons geniet die samesyn met vriende, ons geniet die opwinding van die agtervolging van die dier, ons geniet dit om wild te sien, ons geniet die kampvuur en die stories wat daar vertel word en ons geniet nog soveel meer verskillende dinge wat met die jag verband hou. Ons moet nooit toelaat dat iemand ons hieroor laat skuldig voel nie. Jagters is bereid om vir hierdie
ontspanningsaktiwiteit te betaal. Dit stimuleer juis bewaring, aangesien die geld wat jagters bestee aan grondeienaars die ekonomiese motivering verskaf om hulle wild te bewaar.

Verder ondersteun die geld wat jagters aan wapens, ammunisie, gidse, jaglisensies en verblyf bestee, ’n enorme bedryf waarvan kundiges die jaarlikse omset op meer as R7-miljard beraam. Navorsing toon dat meer as 55% van die inkomste van die wildbedryf uit jag afkomstig is – dus sonder die jagbedryf sal daar ook geen wildbedryf wees nie. Werksgeleenthede word aan duisende verskaf en jagters kan met reg trots wees op die bydrae wat hulle tot die landsekonomie en tot bewaring maak. Daar is baie geldige en wetenskaplik verantwoordbare argumente wat aangevoer kan word oor die rol wat jag speel om die toekoms van die kommersiële wildbedryf te help verseker. Daar is ook die groter prentjie waarby onder andere wildboere ingesluit is. Die toekoms van jag en die toekoms van die wildbedryf is onlosmaaklik aan mekaar verbind en dit maak dus sin dat die groter wildgemeenskap (wat sowel jagters as wildboere insluit) nou met mekaar moet saamwerk. Die groot uitdaging vir almal is om indiwiduele belange ondergeskik te maak aan die groter prentjie, naamlik om ’n sterk en gesonde wildbedryf te vestig waarin die wildboer en die jagter mekaar se behoeftes verstaan en waar almal onderling na mekaar se belange omsien. Ongelukkig is daar diegene wat verby die feite probeer kyk en poog om met emosionele argumente die publiek teen jag op te sweep. Aan ons vriende wat jag nie altyd so mooi verstaan nie, wil ek graag ’n paar belangrike vrae stel: Wie sou u aanstel om Suid Afrika se wild op te pas en te versorg? Is daar iemand beter gekwalifiseer daarvoor as die jagter? Is daar iemand met ’n groter liefde vir wild of wat meer genot uit wild put as die jagter? Is daar iemand wat meer te verloor het as wild nie bewaar word nie as die jagter? Is daar iemand wat meer bydra tot die bewaring van wild as die jagter?

Aan my mede-jagters die volgende:
Sorg dat ons as jagters so optree dat daar geen twyfel kan bestaan oor wat die antwoorde op die vrae in die vorige paragraaf is nie. Geniet u jag en jag met trots. Aan die grondeienaars wat jaggeleenthede aan ons beskikbaar stel, die volgende: Dankie vir die geleenthede wat u aan jagters bied om die natuur en die jagervaring te geniet. Dankie vir die bydrae wat u maak tot bewaring van wild en daarom ook tot die eeue oue praktyk van jag. Ons as jagters beskou u as gewaardeerde vennote. Prof Pieter van Niekerk is verbonde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth as professor in die Departement van Landbou en Wildbestuur. Hy is ook die nasionale voorsitter van CHASA, ’n jagterskonfederasie waarby 22 jagtersliggame geaffilieer is. CHASA verteenwoordig, saam met ander jagtersorganisasies, die belange van jagters tot op die hoogste vlak. Vir meer inligting oor die organisasie, besoek gerus www.chasa.co.za Prof Pieter van Niekerk, skrywer van die artikel, het hierdie eland in Namibië platgetrek nadat hy hom met behulp van ’n Boesman-spoorsnyer te voet gevolg het. 

 
Posted on 30 March 2011 11:00:26


Current rating: 4 (1 ratings)

Trackback URL: https://game.mandela.ac.za/trackback/b2f4360b-1df2-4a46-9627-0089d06c36d1/n-Passie-vir-jag!.aspx?culture=en-GB

Comments
Blog post currently doesn't have any comments.

Bookmark this page:Add to Twitter Add to Facebook Add to Reddit

This blog is about

NMMU Agriculture & Game experiences

Recent posts

Post archive

March 2011 (1)